1. |
Die Kaapse Onderrig- en Leierskapinstituut (KOLI) nooi Grade R tot 12-onderwysers uit om aan die drie-dag lange Konferensie vir Taal en Wiskunde in die 21ste eeu deel te neem, of as aanbieder, of as afgevaardigde. |
2. |
Die doel van hierdie konferensie wat in Oktober 2018 gehou gaan word, is om 'n interaktiewe verhoog aan mense in die onderwysberoep te bied, sodat hulle lewendige gesprekke kan voer oor die jongste, betekenisvolle pedagogiek en navorsingsidees wat die onderrig en leer van Taal en Wiskunde kan verbeter. Die konferensie sal poog om 'n groot verskeidenheid sessies aan te bied ten einde 'n waardevolle uitruiling van kennis, ondervinding en die beste praktyke wat in die klaskamer toegepas kan word, te bevorder, en om te verseker dat kundige vaardighede in ons toekomstige leerders ontwikkel word. |
3. |
Onderwysers sal op twee vlakke aan hierdie konferensie kan deelneem: |
3.1.1 |
Deel u praktiese ondervinding in die klaskamer, insigte, vernuwings en kreatiwiteit in Taal of Wiskunde; of |
3.1.2 |
Deel navorsingsidees oor hoe om die onderrig en leer van Taal en Wiskunde te verbeter vir doeltreffende resultate. |
4. |
Die konferensie sal vanaf Dinsdag, 02 Oktober 2018, tot Donderdag, 04 Oktober 2018, plaasvind. Konferensiesessies sal daagliks om 09:00 begin en teen 15:30 eindig. |
5. |
Die konferensie sal by die Kaapse Onderrig- en Leierskapinstituut, Nooiensfonteinweg, Kuilsrivier, gehou word. |
6. |
Inskrywings vir afgevaardigdes sal sluit sodra die eerste 1 000 aanlyn-aansoeke deur die KOLI ontvang is. |
7. |
Deelnemers of aanbieders uit die landelike gebiede wat 120 km retoer oorskry, kan versoek om oornag op die koste van die Wes-Kaap Onderwysdepartement (WKOD) in die Kaapse Onderrig- en Leierskapinstituut se losieshuis te bly. |
8. |
Die WKOD hoop dat hierdie konferensie verrykend vir alle Taal- en Wiskunde-onderwysers wat dit bywoon, sal wees.
|
GETEKEN: PAD BEETS
ADJUNK-DIREKTEUR-GENERAAL: KURRIKULUM- EN ASSESSERINGSBESTUUR
DATUM: 2018:07:10
|
|