BENUTTING VAN DIE DEPARTEMENTELE GRAAD R-SUBSIDIE
Die subsidie wat deur die WKOD aan VKO-leerterreine betaal word, moet uitsluitlik vir die bedryf van die graad R-klas(se) aangewend word. Sewentig persent (70%) van die subsidie moet benut word as bydrae tot die vergoeding van die betrokke onderwysers, terwyl die balans (30%) vir die aankoop van leerderondersteuningsmateriaal aangewend moet word. Omdat die WKOD nie die volle gelde vir die bedryf van graad R-klasse en die salaris van die graad r-praktisyn voorsien nie, is dit die beheerliggaam van die instansie se verantwoordelikheid om die tekort deur middel van fondsinsameling en die heffing van skoolfondse aan te vul.
Aangesien fondse beperk is, word dit voorts aanbeveel dat skole/inrigtings slegs leerondersteuningsmateriaal van goeie gehalte aanskaf sodat graad R-leerders die maksimum voordeel daaruit kan trek.
Dit moet beklemtoon word dat enige wanbesteding van graad R-fondse sal lei tot die opskorting van 'n preprimêre leerterrein se subsidie. Om hierdie rede is dit noodsaaklik dat die verkorte finansiële staat (Bylae C) wat kwartaalliks saam met die aansoek om subsidie ingedien word, sorgvuldig voltooi moet word.
'n Belangrike vereiste vir voortgesette registrasie is dat 'n minimum van 20 leerders per graad R-klas gehandhaaf word. Waar skole/sentrums (behalwe dié in afgesonderde landelike gebiede) nie daarin slaag om hierdie vereiste na te kom nie, kan sodanige registrasie en/of subsidie onbepaald opgeskort word tot tyd en wyl aan hierdie vereistes voldoen word.
|