1. AGTERGROND
1.1 Die diensstate van gewone openbare skole is bepaal volgens die nasionale Hersiene Posvoorsieningsmodel (HPVM) wat as Bylae A aangeheg was aan Omsendbrief 0143/2002 van 15 November 2002. Dit beteken dat dieselfde beginsels en maatreëls wat vir die 2003- en 2004-diensstate gebruik is, ook vir 2005 gebruik is.
1.2 Soos bepaal deur wetgewing, het die Wes-Kaap Onderwysdepartement (WKOD) oor die personeelvoorsiening van gewone openbare skole beraadslaag met die werknemerspartye in die Raad op Arbeidsverhoudinge in die Onderwys (RAVO) en die erkende skoolbeheerliggaamverenigings.

2. MAATREëLS (BREë BEGINSELS)
2.1 Ingevolge die maatreëls van die HPVM, moet gewone openbare skole jaarliks voor die einde van September van die voorafgaande jaar van hulle diensstate voorsien word. (Die betrokke partye is bewus van die redes waarom die diensstate vir 2005 nie voor die einde van September 2004 uitgereik kon word nie. In hierdie verband word u verwys na DPE-minuut 0007/2004 van 3 September 2004.) Dit beteken dat alle diensstate wat aan gewone openbare skole uitgereik is, sowel as alle addisionele posvlak 1-poste wat gedurende 2004 as gevolg van 'n toename in leerdertal of die kurrikulumbehoeftes van 'n inrigting geskep is, aan die einde van 2004 sal verval.
2.2 Die ad hoc-poste (bo en behalwe die poste aangedui in die vaste diensstaat van 'n skool) wat aan die einde van 2003 vir benutting gedurende 2004 aan skole toegeken is ten einde te verseker dat sekere skole ‘n leerder:opvoederbedeling van 33:1 (sekondêr) of 39,5:1 (primêr) handhaaf, sal ook aan die einde van 2004 verval.
2.3 Skole sal in ‘n aparte brief van hulle posisie met betrekking tot die ad hoc-poste vir 2005 ingelig word.
2.4 The keeping ofer his. Die postestruktuur en omskrywings soos vervat in Kollektiewe Ooreenkoms 4/2003 van die RAVO is van toepassing op die diensstate. Verwys asseblief na Omsendbrief 0161/2003 van 25 Julie 2003 in hierdie verband. Hoofde van onderwysinrigtings moet daarop let dat die nuwe poste- en salarisstruktuur voorsiening maak vir poste van Onderwyskundige, voorheen bekend as Departementshoof. Hierdie poste van Onderwyskundige is gevestig in die loopbaanstrukture Onderrig en Leer en Bestuur. Aangesien die WKOD tans besig is om norme en kriteria vir die benutting van hierdie poste daar te stel, is daar besluit om nie die aantal poste van Onderwyskundige tussen Onderrig en Leer en Bestuur te verdeel nie. Hierdie poste sal, as tussentydse maatreël, as Onderwyskundige geklassifiseer word totdat die WKOD duidelike riglyne met betrekking tot die benutting van die poste kan verskaf.
2.5 Poste van prinsipaal, met uitsondering van prinsipaal P1 wat nou op posvlak 2 is, is volgens Kollektiewe Ooreenkoms 4/2003 van die RAVO op posvlak 4 geplaas. Die graderingsnorme ten opsigte van prinsipaalsposte is egter nog nie in die RAVO gefinaliseer nie en alle skole moet gevolglik hulle 2003-graderings tot verdere kennisgewing behou.
2.6 HERBEREKENING VAN DIENSSTATE

Die WKOD behou hom die reg voor om 'n diensstaat te herbereken indien daar bevind sou word dat enige inligting nie korrek is nie.

2.7 VERMINDERING VAN LEERDERTAL OP DIE EERSTE SKOOLDAG: 2005
2.7.1 Waar daar by die opening van skole in 2005 ‘n afname in die leerdertal is, d.w.s. waar die leerdertal op die eerste skooldag laer is as die leerdertal (jaarlikseopnamesyfer 2004) wat gereflekteer word in die diensstaat vir 2005, mag poste slegs gevul word tot die mate gelyk aan die leerder:opvoeder-bedeling van die diensstaat 2005.
2.7.2 Die voorafgaande beteken dat indien ‘n skool se diensstaat 2005, gebaseer op die jaarlikseopnamesyfer 2004 van 1000 leerders vir 30 poste voorsiening maak (wat ‘n leerder: opvoeder-bedeling van 33.33 t.o.v. die betrokke skool gee) en die leerdertal op die eerste skooldag van 2005 920 is, mag die skoolhoof slegs 28 poste (920 ÷ 33.33 = 28 (27.60)) vul. Die oorblywende twee poste sal afgeskaf word en aan ander skole wat groei in die leerdertal ondervind het, toegeken word.
2.7.3 Hoofde van skole moet die afname in die leerdertal teen die tiende skooldag 2005 onder die aandag van die kringbestuurder bring.
2.7.4 Die bogenoemde maatreël is NIE van toepassing NIE op skole waar ALLE poste in ‘n permanente hoedanigheid gevul is. Indien ‘n pos egter om welke rede ookal vakant raak, dan geld bogenoemde maatreël wel.
2.8 AFNAME IN LEERDERTAL: 2005

Die WKOD behou hom die reg voor om posvlak 1-poste af te skaf waar daar ‘n daling in die skool se leerdertal gedurende die jaar 2005 is. In sodanige geval sal opvoeders wat in ‘n tydelike hoedanigheid aangestel is, na poste by ander inrigtings oorgeplaas word. Hoofde van inrigtings word derhalwe versoek om opvoeders wat tydelik aangestel word, dienooreenkomstig by werwing in te lig dat hulle aangestel word met die voorbehoud dat hulle na ander inrigtings oorgeplaas sal word wanneer poste as gevolg van ‘n daling in leerdertal afgeskaf word.

2.9 TOENAME IN LEERDERTAL: 2005

Aansoeke om die skep van addisionele poste as gevolg van groei in leerdertal moet ooreenkomstig Omsendbrief 0011/2003 van 16 Januarie 2003 by die WKOD ingedien word vir die aandag van die Hoof: Subdirektoraat: Voorsiening (Direktoraat: Personeelbestuur (Opvoeders)).

3. DIENSSTATE: 2005
3.1 TOENAME IN AANTAL POSTE

In 'n geval waar daar ‘n toename in die aantal opvoedersposte is, kan die nuutgeskepte poste op die volgende wyses gevul word:

3.1.1 Opname en plasing (herontplooiing) van botallige opvoeders (let daarop dat opname en plasing van botallige opvoeders ‘n deurlopende proses is wat voorrang bo die advertering van poste sal geniet).
3.1.2 Deur middel van advertering in die vakaturelys met die oog op die permanente vulling daarvan (Dit beteken dat posvlak 1- en bevorderingsposte by die eerste die beste geleentheid geadverteer moet word.)
3.1.3 Op ‘n tydelike basis of in ‘n waarnemende hoedanigheid ooreenkomstig bestaande beleidsvoorskrifte
3.2 AFNAME IN AANTAL POSTE
3.2.1 In ‘n geval waar daar ‘n afname in die aantal poste is (dit wil sê 'n pos of poste is afgeskaf), mag die onderwysinrigting slegs poste vul tot die perk wat op die diensstaat aangedui is. Dit volg dus dat ‘n onderwysinrigting nie meer poste mag vul as waarvoor daar in sy diensstaat voorsiening gemaak is nie.
3.2.2 Indien daar egter meer permanent-aangestelde opvoeders is as waarvoor die diensstaat voorsiening maak, kan die onderwysinrigting nie enige verdere aanstellings, hetsy permanent of tydelik, maak nie.
3.2.3 Inrigtingshoofde word ook daaraan herinner dat die WKOD nie plaasvervangers toewys aan 'n inrigting waar daar meer permanent-aangestelde opvoeders as poste is nie.
3.2.4 Permanent-aangestelde opvoeders moet volgens Kollektiewe Ooreenkoms 2/2003 van die RAVO as botallig geïdentifiseer word.
3.3 VUL VAN GEADVERTEERDE POSTE
3.3.1 Alle poste wat reeds in 'n departementele vakaturelys as vakant geadverteer is, mag op ‘n permanente grondslag gevul word indien die pos in die 2005-diensstaat verskyn.
3.3.2 Indien ‘n geadverteerde pos nie in die 2005-diensstaat verskyn nie, is die inrigting nie geregtig op daardie pos nie en so ‘n pos sal as foutiewelik geadverteer beskou word.
3.3.3 Die maatreël waarvolgens 'n geadverteerde pos (veral 'n bevorderingspos) slegs gevul mag word indien dit nie verdere botalligheid tot gevolg sal hê nie, bly steeds van krag.
3.3.4 Indien inrigtingshoofde en beheerliggame die mening toegedaan is dat die geadverteerde pos se werkomskrywing nie meer aan die inrigting se kurrikulumbehoeftes voldoen nie, kan hulle die WKOD versoek om die pos as foutiewelik geadverteer te beskou. ‘n Volledige motivering moet so ‘n versoek vergesel.
3.3.5 Die WKOD het besluit dat daar weggedoen word met die beleidsmaatreël waarvolgens skole met twintig en meer poste een pos op ‘n tydelike grondslag moet vul. Alle poste soos aangedui in skole se vaste diensstate kan derhalwe as vakant geadverteer word met die oog op die permanente vul daarvan.
3.4 BOTALLIGE OPVOEDERS
3.4.1 Opvoeders wat reeds aan die hand van vorige diensstate ooreenkomstig vorige prosesse as botallig verklaar is en steeds botallig is, behou hulle botalligheidstatus. Hierdie opvoeders sal gehanteer word ingevolge die geldende kollektiewe ooreenkomste van die RAVO.
3.4.2 Hierdie botallige opvoeders (verwys na paragraaf 3.4.1) kan in vakatures op die nuwe diensstaat by wyse van opname en plasing geabsorbeer word (verwys na paragraaf 3.1.1).
3.4.3 Soos aangedui in paragraaf 3.2.4 hierbo, moet permanent-aangestelde opvoeders ingevolge Kollektiewe Ooreenkoms 2/2003 van die RAVO as botallig geïdentifiseer word.
3.5 HERSIENING VAN DIENSSTATE: 2005
3.5.1 Die WKOD het die aantal bekostigbare poste streng ooreenkomstig die HPVM (verwys na paragraaf 1 hierbo), veral vir sover dit die faktore en formules daarin vervat, onder inrigtings onder sy beheer versprei. Hierdie faktore is noukeurig nagegaan ten einde te verseker dat geen skool ingevolge die HPVM benadeel word nie.
3.5.2 Die WKOD besef egter dat daar hoofde kan wees wat vanweë uitsonderlike veranderde omstandighede by hulle inrigtings hulle diensstate sou wou laat hersien. Behoorlik-gemotiveerde versoeke om die hersiening van diensstate kan gerig word aan die WKOD vir die aandag van die Hoof: Subdirektoraat: Voorsiening (Direktoraat: Personeelbestuur (Opvoeders)).
4. NAVRAE

Rig navrae rakende hierdie omsendbrief (maatreëls, ens.) aan kringbestuurders.

5. ALGEMEEN

Bring asseblief die inhoud van hierdie omsendbrief onder die aandag van alle opvoeders en lede van beheerliggame.



GETEKEN: B.K. SCHREUDER
HOOF: ONDERWYS
DATUM: 2004:11:12